Toespraak: Skrywer

Nicolaas Roos, toespraakskrywer: Raakpraat Redenaars

Raakpraat-Redenaars se nuwe web-adres is Raakpraat.com



Skrywer: Nicolaas Roos se boek "Om U te sien glimlag, Here" is deur Bybel-Media uitgegee as 'n Bybelse skets en verhaalbundel en deur die CBSA (Christelike Boekhandelaars van Suid-Afrika / Christian Booksellers Association) aangewys as beste publikasie, Christelike geskenkboek, 1999.



Skrywer Redenaarstoesprake volgens ATKV riglyne

Nicolaas Roos


Raakpraat-Redenaars se Facebook-blad

 As jy lus het om my gratis Bybelstudie E-boekie "21 Minute" in PDF formaat af te laai, kan jy dit doen deur op "21 Minute" se voorblad te kliek.




Neem gerus deel aan ons interaktiewe Bybelstudie oor die 4de gebod, by die volgende skakel: 4de Gebod



Keer Terug na Tuisblad










Toespraak koop ..?


Raakpraat-Redenaars
maak vir kinders
die speelveld meer gelyk as ongelyk.

Is dit regverdig dat sommige kinders ‘n toespraak kan koop, vra jy?

Kom ons kyk
hoe dinge REEDS lyk:

Piet Predikant moet elke Sondag ‘n preek gereed hê. Hy help sy seun met vaardige hand om gedagtes onder woorde te bring en ‘n blywende boodskap op die hart te druk.

Annerien Advokaat stel elke dag haar saak, so oortuigend dat regters oortuig raak: Om haar dogter te help met ‘n redenaarstoespraak, is vir haar maar ‘n geringe saak.

Daleen Dramajuffrou weet hoe om ‘n beoordelaar se aandag te hou: Sy ken van stemwisseling en dramatiese pauses wat met ‘n gehoor kan toor!

Vir haar seun skryf sy ‘n uitmuntende toespraak
wat die opposisie sprakeloos laat!

Louis Loodgieter is ‘n man van min woorde, maar hy het darem ‘n niggie in die Kaap
wat sy seun sal help!

As laerskoolonderwyseres weet sy presies hoe die ding gedoen moet word
sodat die heel meeste punte toegeken word!

Skype jou hier, Skype jou daar – en sien daar:

Die loodgieter se seun
staan terug vir geeneen!

Ben die Bouer is ‘n man wat werk met sy hande!
Hy ken van stene en van bou volgens planne!

Hy bereken boukoste sonder ‘n sakrekenaar – maar as dit kom by toesprake het hy nie raad nie:

Hy sal nie sy dogtertjie daarmee kan help nie:

En sy het ook nie ‘n niggie in die Kaap nie.

Vir haar is daar niemand nie.

Vir haar is die speelveld nie
gelyk nie.

Daarom bestel Ben Bouer vir sy dogter ‘n Raakpraat-Toespraak by Raakpraat-Redenaars!

Nie almal se ouers is vaardig met woorde nie.

‘n Bekwame buurvrou is ook nie vir almal beskore nie.

Maar danksy Raakpraat-Redenaars - is hulle saak nie verlore nie!



Om jou toespraak te bestel kliek op die volgende skakel om 'n aanlynbestelvorm (met stap-vir-stap verduidelikings) in te vul:


Vir navrae, stuur 'n epos na redenaars@gmail.com

Artikel uit Taalgenoot:

Redenaarstoesprake: Om te koop of nie

Die advertensie op een redenaarstoespraakverskaffer se webwerf lui:
“Niemand durf meer die tennisbaan aan met ’n tuisgemaakte raket nie. Waarom moet jy die verhoog aandurf met ’n selfgemaakte toespraak? Vir hokkie koop jy ’n stok. Vir rugby ’n bal en trui. Vir redenaars bestel jy ’n toespraak ...”
Gekoopte redenaarstoesprake het in die laaste paar jaar ’n taai toffie geword.
Daar is dié wat vra hoekom nie, want nie eens die grootste oratore skryf hul eie toesprake nie. Ander snak na hul asem en bevraagteken die regverdigheid daarvan.
Die vraag is dus, voorsitter, dames en here (soos dit in ’n goeie toespraak hoort): Om te koop of nie?
Wat is die les?
Erika Janse van Rensburg, wat al jare by redenaars en debat betrokke is en ATKV-Redenaarskursusse aanbied, meen toespraakskrywers (dis nou diegene wat ’n geldjie vir hul moeite kry) het die kompetisie gekaap. 
“Die feit dat ouers te besig is – ouers koop selfs vir hul kinders toesprake vir ’n klaspraatjie – en die wenfaktor het veroorsaak dat daar ’n bedryf ontstaan het. As iemand so vindingryk is om op hierdie manier geld te maak, kan die ATKV niks daaraan doen nie, maar dis belangrik om voor oog te hou dat dit beslis nie die doelwit van die ATKV-Redenaarskompetisie is nie.”
Volgens Erika gaan dit nie vir die ATKV oor ’n gekoopte toespraak nie, maar eerder om kinders te bemagtig om dit self te doen. “Anders kon ons netsowel ’n kompetisie gereël het waar kinders ’n lekker lang gedig leer en dit kom opsê.”
Dr. Elbie Adendorff, wat al 17 jaar by die beoordeling van redenaarskompetisies betrokke is, beskou die koop van toesprake as ’n grysgebied. Sy meen enigeen wat aan sport deelneem, kry tog hulp van ’n afrigter, en dan praat ’n mens nie eens van fisioterapeute, kopdokters ensovoorts nie. Maar watter boodskap stuur gekoopte redenaarstoesprake, want redenaarskompetisies val in die opvoedkundige veld, voeg sy by. “Maak ons nie dan kinders groot wat nie vir hulself kan of wil dink nie?”
Die argumente 
Gaan loer ’n mens op webwerwe waar toesprake te koop aangebied word, kan ’n redenaarstoespraak jou tussen R300 en R700 uit die sak jaag. Daar is beloftes van klastoesprake binne 24 uur en sommige diensverskaffers reik selfs ’n sertifikaat uit wat “waarborg” die toespraak is enig in sy soort.
Die komediant Schalk Bezuidenhout, wenner in die ATKV-Redenaarsfinaal in 2009, sien niks fout daarmee om ’n toespraak te koop nie. “Op skoolvlak sou ek nie my eie toespraak kon skryf nie. Ek sou nooit met my eie toespraak kon meeding teen iemand wie se toespraak deur, byvoorbeeld, ’n vrou in haar 40’s geskryf is nie. Om met ’n gekoopte toespraak te praat is die saak net halfpad gewen; jy moet steeds die gehoor probeer oortuig.”
Volgens Schalk was daar in sy jare geen voorskrif dat jy jou eie toespraak moet skryf nie – dit was belangriker dat jy ’n beredeneerde toespraak skryf. “My ma is moerse bang vir reëls breek; sy sou nooit toegelaat het as dit verbied is nie.”
Janneke Venter, ’n matriekleerder aan die Hoërskool Witteberg en 2016 se wenner in die ATKV-Redenaarsfinaal vir onvoorbereide toesprake, sê ’n mens moet vra wat die uiteindelike doel van die kompetisie is. “Volgens my is dit om ’n toespraak te leer skryf en praat; om te leer om ’n mening te vorm en jou oortuigings dan oor te dra. Wanneer jy toesprake koop, leer jy net om die toespraak te lewer en nie noodwendig om vanuit navorsing ’n bepaalde standpunt te formuleer en dan jou eie oortuiging oor te dra nie.”
Haar pa, Coenie, hoof van Witteberg en ’n bekende in redenaarskringe, sê die koop van toesprake is te verstane in ’n strawwe kompetisie en weens ouers se beheptheid met wen. “Maar so min mense besef dat die vaardigheidsontwikkeling van openbare redevoering, wat redenaars ten doel het om te ontsluit, ’n baie groter oorwinning is as die titel van wenner. Dit het naskoolse waarde wat jy nie met geld kan koop nie.”
Waardevolle diens
Praat jy met toespraakskrywers, is hulle dit eens die diens wat hulle lewer, bemagtig ’n kind om met selfvertroue sy sê te kan sê.
Nicolaas Roos van Raakpraat Redenaars het begin toesprake skryf as ’n guns vir sy suster en deesdae het hy ’n lang waglys van mense wat met sy kalwers wil ploeg. “Kinders se vermoë om navorsing te doen word reeds in take getoets. Hul vermoë om te skryf, word in opstelle getoets. Hoekom, as ’n kind se vermoë om te praat getoets moet word, moet hulle self die toesprake skryf?”
Madelein Waldeck van Praat met Passie skaar haar by Nicolaas en sê ’n kind moet leiding kry. “Dis nie meer net die elite-kinders wat aan redenaars deelneem nie,” voeg sy by. “En omdat die standaard deesdae so hoog is, kan ’n mens nie net met ’n selfgeskryfde toespraak daar opdaag en dink jy gaan die kompetisie wen nie.”
Dink saam
Een ding is seker: Of jy voor ’n gehoor gaan staan met ’n gekoopte toespraak of een wat jy self geskryf het, ure se werk word ingesit om jou standpunt te stel. 
Janneke sê die mededinging is so sterk natuurlike talent is nie genoeg nie; dit verg klipharde werk. “Ek sou sê dat ’n goeie redenaar aan die volgende eienskappe moet voldoen: Aanhou, uithou en opstaan wanneer die uitslae jou platslaan.”
Sy bestee ure saam met Annalie Bredenkamp, haar redenaarsonderwyseres. Hulle oefen om onderwerpe te ontrafel, standpunte te toets en skeppende taal te gebruik.
Luister ’n mens na die werk wat ingesit word, is dit duidelik: Al praat ’n mens in onvoorbereide redenaars, verg dit steeds baie oefening. Schalk se ma het ure se werk ingesit om hom gereed te maak om op sy voete te kan dink. “My ma sou oefeninge met my doen,” vertel hy. “Sy sou vir my ’n nuusberig gee en ’n tyd waarin ek ’n toespraak moes uitwerk. Ek het geleer om vinnig deur bronne te werk en ’n standpunt te stel. ’n Mens oefen die game, net soos rugby.” 
Vir Elbie lê die oplossing daarin dat toespraakskrywers en sprekers nouer saamwerk. Die kind kan sy of haar insette lewer, terwyl ’n volwassene dit skryf en formuleer.
“Alle ouers wil hê hul kind moet goed doen, maar dis belangrik om nie die opvoedkundige waarde van redenaars te vergeet nie. Ek weet ouers en kinders is besig, maar die saam skryf aan ’n toespraak kan ’n goeie bonding-ervaring wees.”
Coenie meen die formaat van die kompetisie kan aangepas word. “Sodra ons sou begin om kinders op ’n baie vroeë ouderdom – met hulp vooraf vir struktuur en woordeskat – in ’n lokaal te plaas om hul eie toespraak te skryf en dan rou talent teen rou talent beoordeel, hoe gouer gaan ons kinders bemagtig om die vaardigheid te bemeester. Vir diegene wat net wil perform, kan ons ’n kategorie skep vir slegs gekoopte toesprake waar die klem op die voordraggedeelte val.”
Die Amerikaanse rolprentmaker John Ford, wat as een van die grootste en invloedrykste regisseurs gesien word, het gesê: “Jy kan goed praat as jou tong die vermoë het om die boodskap van jou hart oor te dra.” Met ’n gekoopte toespraak loop jy dalk met iemand anders se hart op jou mou, maar ten minste kry dit jou sover om voor ’n gehoor te praat. Om te koop of nie te koop nie – dit bly die vraag. 
DEUR REZA CLIFFORD
* Hierdie artikel het in die Taalgenoot (Lente-uitgawe 2017) verskyn.



Alle Temas


Lys van afgelope jare se ATKV Temas:





2017 Temas:

GRAAD 1 tot 3 - Gebruik 2017 Bestelvorm
1. Gogga
2. Blink
3. Reënboog

GRAAD 4 tot 5 - Gebruik 2017 Bestelvorm
1. Note
2. Blou
3. Klei


GRAAD 6 tot 7 - Gebruik 2017 Bestelvorm
1. Klik
2. Spieël
3. Krap
2016 Temas:

GRAAD 1 tot 3 - Gebruik 2016 Bestelvorm
1. Ledigheid is die duiwel se oorkussing
2. As die vlooi byt, moet jy krap
3. Elke haan is koning op sy eie mishoop
4. As twee hande mekaar was, word albei skoon
5. Om van ’n padda vere te probeer pluk

GRAAD 4 tot 5 - Gebruik 2016 Bestelvorm
1. Bloed kruip waar dit nie kan loop nie
2. Die pap dik aanmaak
3. Wie wind saai, sal storm maai
4. Jou eie boontjies uitdop
5. Die oggendstond het goud in die mond

GRAAD 6 tot 7 - Gebruik 2016 Bestelvorm
1. Iemand se Achilleshiel
2. As die hoenders tande kry
3. ’n Man van twaalf ambagte en dertien ongelukke
4. Haastige hond verbrand sy mond
5. Elke bobbejaan het sy krans

GRAAD 8 tot 9 - Gebruik 2016 Bestelvorm
1. Mens vang meer vlieë met heuning as asyn
2. Elke man soen sy vrou op sy eie manier
3. Benoude katte maak benoude spronge
4. Dis maklik gesê maar die eend lê die eier
5. Die verste berge is altyd die blouste

GRAAD 10-12 - Gebruik 2016 Bestelvorm
1. Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang
2. Hunker na die vleispotte van Egipte
3. Baantjies vir boeties
4. ’n Saak blou-blou laat
5. Dis die klein jakkalsies wat die wingerde verniel

2015 Temas:

GRAAD 1 tot 3 
1. Lekker is net 'n vinger lank. 
2. Een vrot appel steek al die ander aan. 
3. Kinders moet gesien word, maar nie gehoor word nie.
4. Oos, Wes, Tuis, Bes ... 
5. Met grysheid kom wysheid.

GRAAD 4 tot 5 
1. Liewer bang Jan as dooie Jan. 
2. Een swaeltjie maak nog nie 'n somer nie.
3. Blaffende honde byt nie.
4. Buig die boompie solank hy jonk is.
5. Die een hand was die ander. 

GRAAD 6 tot 7 
1. Te veel hooi op jou vurk hê. 
2. As dit pap reën, moet jy skep.
3. Elke dassie prys sy eie kwassie. 
4. Geld wat stom is, maak reg wat krom is.
5. 'n Boom gooi altyd 'n skaduwee. 

GRAAD 8 tot 9 
1. Skoenmaker, hou jou by jou lees.
2. Klein baas beter as groot kneg.
3. Baie honde is 'n haas se dood. 
4. Bloed uit 'n klip tap.
5. Met jou hoed in die hand kom jy deur die hele land. 

GRAAD 10-12 
1. Dis die hand wat die wieg skommel wat die wêreld regeer.
2. As die klou uitsteek, is die leeu daaragter. 
3. Waar die aas is, vergader die arende/aasvoëls. 
4. Moenie hoera skree voor jy oor die brug is nie. 
5. Volstruispolitiek 

2014 Temas:

Skop, Sirkus, Poeding (Gr.1-3) 

Trappe, Braai, Seisoene (Gr.4-5) 

Posisie, Kook, Rooi (Gr.6-7) 

Pols, Arbeid, Sterre (Gr.8-9) 

Druk, Etiek, Bakens (Gr.10-12) 

2013 Temas:

Familie, Eet, Speelgoed (Gr.1-3) 

Omgewing, Praat, Ryk (Gr.4-5) 

Geld, Skryf, Dakke (Gr.6-7) 

Taal, Toeskouers, Lig (Gr.8-9) 

Doolhof, Vlieg, Netwerke (Gr.10-12) 


2012 Temas:

Hande, Blaf, Skatte (Gr.1-3) 

Hekke, Resepte, Vlieërs (Gr.4-5) 

Wurm, Sambok, Gom (Gr.6-7) 

Vlam, Remme, Skoene (Gr.8-9) 

Roer, Integriteit, Spens (Gr.10-12) 

2011 Temas:

Geluide, Sênou, Sorg (Gr.1-3) 

Sleutel, Herwin, Tameletjies (Gr.4-5) 

Beweeg, Knope, Grond (Gr.6-7) 

Wapens, Verskil, Spore (Gr.8-9) 

Goud, Horison, Konserwatief (Gr.10-12) 

Raad met die aanbieding van jou toespraak

Raakpraat-Redenaars se nuwe web-adres is:

Raakpraat.com



As kinders toesprake aanbied, dink hulle maklik hulle "speel nou die rol van 'n grootmens." En dit is 'n fout. Ons wil nie 'n grootmens in 'n kinderlyf hoor nie: Ons wil 'n kind hoor! Onthou om die toespraak as 'n "tiener" aan te bied en moenie probeer om soos 'n grootmens of politikus te klink nie. Onthou, jy is 'n TIENER wat jou maats en grootmense wil oortuig van jou standpunt as kind: Uit die oogpunt van 'n kind. Pasop vir sinne wat "te volwasse" klink. Daar is 'n fyn lyn tussen 'n "slim kind" en 'n "klein grootmensie."

Hoe om jou woordvorming (artikulasie) te verbeter



Hier is 'n stukkie raad wat vir my persoonlik baie beteken het: Toe ek drama-eksamen afgelê het, het die aktrise, Lizz Meiring my beoordeel. Sy het vir my gesê ek moet werk aan my woordvorming, en toe gee sy die volgende raad oor HOE om dit prakties te verbeter:




Redenaarstoespraak aanbieding
Sy het gesê ek moet 'n derde of 'n kwart van 'n kurkprop afsny en dit tussen my voortande sit wanneer ek my dialoog oefen. Die stuk kurkprop dwing jou om jou woorde baie bewustelik te vorm. Wanneer jy die kurkprop uithaal hoor jy 'n groot verbetering in jou uitspraak. Dit voel regtig onnosel, maar oefen afwisselend met die kurkprop, en dan weer daarsonder: Dit het vir my baie goed gewerk! Dankie Lizz!

HUMOR in redenaarstoesprake?


Hier is my antwoord op iemand se vraag oor humor in redenaarstoesprake.


Wat jou vraag oor grappies betref:

Humor word aanbeveel vir redenaarstoesprake, maar grappies word nie aanbeveel nie.

Let op die verskil tussen humor en grappies:

Humor is in die manier waarop jy 'n ding sê of dinge teenoor mekaar stel. Humor is die "sout" wat jy liggies moet sprinkel oor die ernstige dinge wat jy sê, deur 'n ligte, vrolike en optimistiese trant. Wat 'n mens regtig daarmee wil verhoed is 'n droë, emosielose toespraak.

'n Redenaarstoespraak is op 'n ander vlak as 'n inligtingstoespraak of 'n vermaaklikheidstoespraak:

Met 'n redenaarstoespraak probeer jy jou gehoor van jou standpunt oortuig. Soos 'n advokaat in die hof, is jou doelwit om hulle oor te haal tot jou standpunt wat heel ernstig is.

Op die ATKV-beoordeelstaat sal jy sien dat daar nie punte toegeken word vir grappies nie, en selfs nie vir humor nie, want 'n redenaar is nie 'n seremoniemeester of 'n komediant nie.

Dink Riaan Cruywagen, nie Casper de Vries nie.


Humor in 'n redenaarstoespraak is in lyn met die tipe spitsvondige tong-in-die kies opmerking wat Riaan Cruywagen gewoonlik maak by die Nuusbulletin se laaste berig.

Om te sien hoe humor in Raakpraat Redenaars se toesprake gebruik word, lees gerus: Voorbeeld van 'n tipiese Raakpraat Toespraak


Raakpraatgroete,

Nicolaas Roos
(skrywer)

Raakpraat Redenaars distansieer hom van eboek



Raakpraat Redenaars distansieer hom van Judy van Biljon se nuwe eboek met dieselfde naam (Raakpraat Redenaars, geadverteer by Kalahari.com).


Haar boek word nie onderskryf nie, nie aanbeveel nie.

Raakpraat Redenaars is 'n internetgebaseerde toespraakdiens gelewer deur een skrywer alleen: Nicolaas Roos.

Kersfees tussen bome

Kersfees tussen bome     - nicolaas roos

Kain slaan vir Abel dood

bloed syfer weg in die grond

Te midde van al die sonde heen,
skenk God steeds reën

Uit die aarde spruit daar groenigheid:

stammetjies breek die grond

Nuwe boompies kom op

Somers, warm;
Winters, koud;
Sagte, groen stammetjies
word harde bruin hout

Noag vat die hout en bou ‘n reuse skip
In die ark lê die redding
Vir DIE wat ‘n skoon, nuwe aarde sal beërwe

Maar in Betlehem kap iemand net een boom af en bou ‘n enkele hout krip
En in DIE hout krip lê ‘n groter Redding
Van sondevloed
as in Noag se reuse ark

Vir DIE wat ‘n skoner, splinternuwe, splintervrye aarde sal beërwe

Een mens slaan ‘n ander dood
en bloed syfer weg in die grond

Te midde van al die sonde heen,
skenk God steeds reën

Uit die aarde spruit daar groenigheid:

stammetjies breek die grond

Nuwe boompies kom op

Somers, warm;
Winters, koud;
Sagte, groen stammetjies
word harde bruin hout

Van sederhout bou Moses ‘n ark en trek dit oor met goud
Goue engelebeelde strek hulle vlerke oor die versoendeksel waar versoening gedoen sal word met bloed

In Moses se ark lê die versoening
Vir DIE wat ‘n vry nuwe aarde sal beërwe

Maar in Betlehem kap iemand net een boom af en bou ‘n nederige hout krip
En bo die krip skyn goue lig;
sing WERKLIKE engele en strek hulle vlerke,
want in DIE hout krip lê ‘n groter Versoening as in Moses se goue ark
Vir DIE wat ‘n vryer, nuwe aarde sal beërwe

Buite Jerusalem breek ‘n stammetjie die grond
En ‘n Nuwe boompie kom op

Nog ‘n klompie Somers, warm;
Nog ‘n paar Winters, koud;

En buite Jerusalem

staan ‘n kruishout

En nou?

'n Fluistering deur die bome..

Duisende stammetjies breek steeds die grond

Miljarde Nuwe boompies kom oral om ons op

Sagte, groen stammetjies
word harde bruin hout
Tot dun Bybelblaadjies verpulp

En Saamgebind

Sodat almal oor die Aarde
In alle tale
die Kind

kan vind

En kind kan
WORD

Van God

Vir God


Vir altyd!