Kersfees tussen bome

Kersfees tussen bome     - nicolaas roos

Kain slaan vir Abel dood

bloed syfer weg in die grond

Te midde van al die sonde heen,
skenk God steeds reën

Uit die aarde spruit daar groenigheid:

stammetjies breek die grond

Nuwe boompies kom op

Somers, warm;
Winters, koud;
Sagte, groen stammetjies
word harde bruin hout

Noag vat die hout en bou ‘n reuse skip
In die ark lê die redding
Vir DIE wat ‘n skoon, nuwe aarde sal beërwe

Maar in Betlehem kap iemand net een boom af en bou ‘n enkele hout krip
En in DIE hout krip lê ‘n groter Redding
Van sondevloed
as in Noag se reuse ark

Vir DIE wat ‘n skoner, splinternuwe, splintervrye aarde sal beërwe

Een mens slaan ‘n ander dood
en bloed syfer weg in die grond

Te midde van al die sonde heen,
skenk God steeds reën

Uit die aarde spruit daar groenigheid:

stammetjies breek die grond

Nuwe boompies kom op

Somers, warm;
Winters, koud;
Sagte, groen stammetjies
word harde bruin hout

Van sederhout bou Moses ‘n ark en trek dit oor met goud
Goue engelebeelde strek hulle vlerke oor die versoendeksel waar versoening gedoen sal word met bloed

In Moses se ark lê die versoening
Vir DIE wat ‘n vry nuwe aarde sal beërwe

Maar in Betlehem kap iemand net een boom af en bou ‘n nederige hout krip
En bo die krip skyn goue lig;
sing WERKLIKE engele en strek hulle vlerke,
want in DIE hout krip lê ‘n groter Versoening as in Moses se goue ark
Vir DIE wat ‘n vryer, nuwe aarde sal beërwe

Buite Jerusalem breek ‘n stammetjie die grond
En ‘n Nuwe boompie kom op

Nog ‘n klompie Somers, warm;
Nog ‘n paar Winters, koud;

En buite Jerusalem

staan ‘n kruishout

En nou?

'n Fluistering deur die bome..

Duisende stammetjies breek steeds die grond

Miljarde Nuwe boompies kom oral om ons op

Sagte, groen stammetjies
word harde bruin hout
Tot dun Bybelblaadjies verpulp

En Saamgebind

Sodat almal oor die Aarde
In alle tale
die Kind

kan vind

En kind kan
WORD

Van God

Vir God


Vir altyd!