SONVANGERS MET GROEN VINGERS

SONVANGERS MET GROEN VINGERS

Houtbruin, en doodstil staan die sonvangers - met hulle Groen vingers:

Bome en plante wat uit die grond opkom en lig van die son fotosinteer:

(Heiliger, eintlik: FotoSAINTeer)

Die wonder van kos uit lig gebeur:

sodat ons lewe uit die verste hemel kan verteer.

Sodat ons die onaantasbare lig versadigend kan verorber:

Tussen ons vingers kan brokkel soos brokkolie; kan afskil soos piesang; kan proe soos lemoen.

Jong grasspriete sterf in die sappige fleur van hulle lewe, sodat kalwers kan wei en gesonde, jong beeste kan word

wat geslag word

sodat ons kan eet en leef – vreugdevol - met die lewenskrag wat plantlangs uit die verre hemel van die son af na ons toe kom:

Lewenslig wat die sonvangers met hulle groen vingers vasgevang het en losgelaat het in ‘n voedselketting waaraan alle lewe anker.

Ons kry versadigend deel aan die lig uit die hemel,

nie net aan fotosinterende slaaiblare, of jonk-geplukte vrugte en jonk-ontrukte groente met lewenssap in hulle nutriƫntryke liggame nie, maar ook aan ryke vlees wat ons laat wees: kinders van die lig wat uit die hoogste Hemel kom.

So kry ons deel aan die lig. Deur die dood. En in die dood vind ons die lewe wat van die ligbron; die son af kom met die oorsprong van alle lewe in hom.

Eet ons blare; eet ons son!
Eet ons vrugte, eet ons van hom.
Eet ons vlees; eet ons eweneens lewe uit lewe uit lig.

Ons lewe uit lig.

Tot ons terugkeer na Hom. Die ware bron. Die Lig wat uit die Hoogste hemel kom.

Die namaal wat die dag laat breek.

Heel.
Stukkend, ja.
Maar HEEL.

Houtbruin en doodstil staan die kruis wat hemel-toe wys.
Die Lig het gekom en die lewe was in Hom.
IS in Hom.
Is in ons wat wag dat die Lig ons moet wegdamp

Maar tot dan
Is ons deel van die ketting wat lewe moet anker aan die lig wat uit die hemel kom.


                        -nicolaas roos