HUMOR in redenaarstoesprake?


Hier is my antwoord op iemand se vraag oor humor in redenaarstoesprake.


Wat jou vraag oor grappies betref:

Humor word aanbeveel vir redenaarstoesprake, maar grappies word nie aanbeveel nie.

Let op die verskil tussen humor en grappies:

Humor is in die manier waarop jy 'n ding sê of dinge teenoor mekaar stel. Humor is die "sout" wat jy liggies moet sprinkel oor die ernstige dinge wat jy sê, deur 'n ligte, vrolike en optimistiese trant. Wat 'n mens regtig daarmee wil verhoed is 'n droë, emosielose toespraak.

'n Redenaarstoespraak is op 'n ander vlak as 'n inligtingstoespraak of 'n vermaaklikheidstoespraak:

Met 'n redenaarstoespraak probeer jy jou gehoor van jou standpunt oortuig. Soos 'n advokaat in die hof, is jou doelwit om hulle oor te haal tot jou standpunt wat heel ernstig is.

Op die ATKV-beoordeelstaat sal jy sien dat daar nie punte toegeken word vir grappies nie, en selfs nie vir humor nie, want 'n redenaar is nie 'n seremoniemeester of 'n komediant nie.

Dink Riaan Cruywagen, nie Casper de Vries nie.


Humor in 'n redenaarstoespraak is in lyn met die tipe spitsvondige tong-in-die kies opmerking wat Riaan Cruywagen gewoonlik maak by die Nuusbulletin se laaste berig.

Om te sien hoe humor in Raakpraat Redenaars se toesprake gebruik word, lees gerus: Voorbeeld van 'n tipiese Raakpraat Toespraak


Raakpraatgroete,

Nicolaas Roos
(skrywer)