Skryf ‘n WEN Redenaarstoespraak!

Raakpraat-Redenaars se nuwe web-adres is:

Raakpraat.com


Skryf ‘n WEN Redenaarstoespraak!
Skryf self 'n WEN redenaarstoespraak!
Hier is ‘n wenresep om self jou redenaarstoespraak te skryf.

A) Voor jy begin: Kyk eers na die volgende voorbeelde van redenaarstoesprake

B) Maak seker jy het al die bestandele.

Bestandele wat jy gaan nodig kry om ‘n goeie redenaarstoespraak self te skryf:

1.Tyd: BAIE tyd. Moenie verwag om sommer gou een middag ‘n goeie redenaarstoespraak te kan skryf nie. Om ‘n goeie redenaarstoespraak te skryf neem meer tyd as ‘n goeie opstel en meer tyd as ‘n inligtingstoespraak, ‘n verwelkomingstoespraak of ‘n motiveringstoespraak.

Hoekom?:

1.1.Omdat jy navorsing ook moet doen;

1.2.Omdat dit beredeneerd EN kreatief moet wees

1.3.Omdat jy gemiddeld 3 argumente moet bedink, wat elk gestaaf kan word deur jou navorsing.

2. Tweede bestandeel: Inligting: Maak seker jy is goed ingelig oor wat in die wêreld om jou aangaan: Dit sal jou help om idees te kry vir ‘n toespraak wat aktueel is. As jy weet watter vraagstukke mense vandag laat kopkrap, dan is dit makliker om koers te kry.

3.Derde bestandeel: Diep denke. Dink oor iets waarvan jy mense wil oortuig. Dink oor minstens 3 goeie redes waarom hulle met jou moet saamstem nadat hulle na jou geluister het. Dink eers diep na en beplan deeglik die struktuur van jou toespraak, voor jy sommer aan die werk spring en jouself in ‘n hoek in skryf – of eindig met ‘n toespraak wat meer geskik is om gebruik te word as ‘n inligtingstoespraak, of as motiveringstoespraak – want dan gaan jy baie punte verloor, al het jy ‘n oulike toespraak: Onthou redenaarstoesprake word op spesifieke punte beoordeel: Kyk gerus na ‘n ATKV-beoordelaarstaat.

4.Beredeneerdheid. Voor jy begin skryf, oefen eers deur met ‘n paar mense oor jou standpunt te redeneer. Kyk of jy hulle kan oortuig. Kyk watter argumente werk die beste. Kyk of jy die nodige aanhalings het wat jou argumente oortuigend kan staaf – en luister goed na die teen-argumente wat ander aanvoer: Dit sal jou help om leemtes in jou argumente betyds raak te sien, voor jy begin skryf.

5.Kreatiwiteit. Die gehoor wil oortuig word, maar hulle wil nie na ‘n vervelige “hofsitting” of “parlementsvergadering” sit en luister nie: Hulle wil ook VERMAAK word. ‘n Goeie toespraakskrywer weet hoe om ter selfdertyd beredeneerd EN kreatief te skryf, sodat sy toespraak nie net oortuigend is nie, maar ook vermaaklik. Dit is soos kos wat nie net voedsaam moet wees nie, maar ook LEKKER! Maar pasop: Probeer jy TE hard om dit LEKKER te maak, dan is dit naderhand nie meer so voedsaam (oortuigend) nie..

6.Goeie taalgebruik. Gebruik goeie Afrikaanse woorde en uitdrukkings, maar hou by goeie Afrikaanse GESPREKSTAAL: Moenie formeel begin praat nie. Oppas vir formele woorde soos “indien”. En maak woordkeuses wat by jou ouderdom pas.

7.Verstaan die verskil tussen TEMA en ONDERWERP. Dit is meestal beter om die tema nie te letterlik te gebruik wanneer jy jou onderwerp formuleer nie. As die tema byvoorbeel KRAP is, moet jy liefs nie oor varswaterkrappe of krappe wat in die see woon redeneer nie, dan beland jy maklik met ‘n “inligtingstoespraak” en verloor punte wanneer dit as “redenaarstoespraak” beoordeel word: Formuleer liewer ‘n standpunt soos “Om jou eie potjie te begin KRAP, is vandag moeiliker as toe pa en ma jonk was”.

8.Verstaan die verskil tussen VOORBEELDE en ARGUMENTE. As jy die gehoor byvoorbeeld wil oortuig dat “Sukses deur volharing kom,” dan is dit nie genoeg om in die eerste plek byvoorbeeld die suksesverhaal van Thomas Edison, en in die tweede plek die sukses van Karel Benz op te haal nie, want Edison en Benz se suksesverhale is net VOORBEELDE van sukses wat gevolg het op volharding. Jy kan die twee voorbeelde in een van van jou argumente gebruik, maar buiten die voorbeelde het jy duidelike argumente/REDES nodig vir jou standpunt, anders gaan jy baie punte verloor.

EUREKA: Nou-ja, daar het jy al die bestandele! (As jy ‘n bloumaandag beleef en nie betyds alles bymekaar kan kry vir skool nie, bestel ‘n Raakpraat-toespraak by Raakpraat-Redenaars, en kry intussen rustig jou bestandele bymekaar om te kan werk jou selfgeskryfde toespraak vir ATKV uitdunne)

C) Die laaste stap: Nou meng jy jou bestandele goed bymekaar, en sit dit uiteen in die regte struktuur vir ‘n goeie redenaarstoespraak. Hier is raad oor hoe die struktuur vir ‘n goeie redenaarstoespraak lyk